Die Spieël
“Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die lelikste in ons land?” mompel Willem weer as hy dink aan die onsin wat in die dorp weer aan die gang is.
Hy sit in sy vuil woonstellietjie waar hy nou al vyftien jaar alleen
oorleef. Op die lessenaar is die pak vraestelle van die graad tiens se geskiedenis
eksamen wat hy voor môre moet klaar merk anders gaan ou Piet hom weer voor die
ander onderwysers uitskel. Die lewe is hel!
Dan daardie Marie vroumens met haar gifbek wat voor almal in die
kerkraad sal verkondig, “Liewe dames en menere en veral Meneer Piet, ons het juis
gisteraand weer by die koöperasie se stoorkamer saam met Jan gaan kyk na daardie
oeroue vuil spieël wat daar in die badkamer hang. Julle sal my nou nie glo nie,
ek sien presies wat gebeur het in die konsistorie met die nagmaal wyn!”
Hy dink diep, wat is dan verkeerd, seker oorlede Pa wat na ma se dood
oral met vroumense hier in Klipfontein flankeer het en hulle mans woedend gemaak
het?
Net daar lui sy foon, die skerm wys ‘Sarah’. “Hêllo Sarah!”
“Meneer, ek is so jammer om oom te pla…”
“My kind jy pla my nooit, daar by ons skool se admin kantoor is jy
alles vir ons, jy is al een wat vir my help!”
“Oom, weet oom van die spieël dinge wat Tannie Marie beweer mens kan in
die ou spieël by die koöperasie terug kyk na wat vroeër gebeur het?”
“Sarah, watse onsin is dit!”
“Oom is so reg maar die hele dorp glo wat sy vertel en nou skinder
almal dat sy weet wie het die nagmaal wyn gesteel!”
Hy bly net stil tot Sarah die foon afsluit, staan op om sy das en
baadjie te gaan aantrek en reg maak vir dit wat hy so haat, die Kerkraad vergadering
…
Dominee Van der Poel maak keel skoon, “Goeie naand broers en susters, baie
dankie dat ons weer by mekaar kan wees en om as dolerende gemeente soveel ander
te help. Suster Marie, sal jy as voorsitster nou oorneem?”
Sy staan stadig op, vat
die pak papiere en hompel met haar dik bene na die punt van die tafel. “Broers
en susters, om te begin ons is so ontsteld oor die liters nagmaal wyn wat net
weg is. Die dom polisie kry weer niks reg nie. Ek het toe weer vir my weeklikse
besoek in die koöperasie se ou stoorkamer se badkamer weer in die spieël gaan
kyk en u sal my nie glo nie, daar wys dit duidelik hoe die persoon die glas van
die venster breek, in klim met ʼn groot boks om al die bottels Sedgefield Old
Brown een vir een in daar in pak. Hy het ʼn lap oor sy gesig gedra soos in die
virus tyd, maar dit maak nie saak nie, ek het hom duidelik herken!”
“Suster Marie wie was
dit?” gil amper almal. Willem kyk net af na sy tone en sug weer.
Marie bly eers stil en
toe. “Liewe Kerkraders, ek dink diep daaroor en sal later vannag weer lank in
die ou spieël gaan kyk. As ek meer raaksien dan vir Sersant Koos gaan op klop
en dit wys sodat hy die arrestasie kan afhandel.” Sy kyk na Willem vir amper ʼn
minuut en die hele kerkraad hou hulle harte vas.
Willem vlieg op, los al
die papiere net daar en storm by die vertrek uit en klap die deur toe. Wat nou?
“Kom Koos, ek kan nie langer wag nie!” skree Marie oor die selfoon.
“Kalmeer liefling, ek is nou
daar.”
Marie loop af om die
blok, sluit die ou koöperasie gebou se veroeste deur agter oop, sit haar flits
aan en strompel oor die ou goed wat daar rond lê. Sy gil vir haar self. “Kom dat
ons die vark kan vastrek, wat sy pa Johan aan my gedoen het sal hy nou voor
boet!”
Uiteindelik kom stop die
vangwa en Koos druk op die toeter. Marie kom uit en gil. “Kom, julle onnosel
ore beteken niks, kom!!!”
Koos sit sy pet op en en
trek die pistool reg, neem sy knuppel en loop bang in. Marie loop vooruit met
die flits. Sy loop in by die ou verlate badkamer, dit stink vreeslik.
“Koos staan nou net hier
en jy roer nie, het jy my? Ek weet van al jou kaskenades en as Majoor Vermeulen
dit moet hoor is dit moer toe met jou!”
Koos bly doodstil hy tuur
na die spieël terwyl Marie met die flits daarop lig. “Maar Marie hier is dan
niks nie, net ek en jy weerkaats van dit?”
Sy bly net stil en vir ʼn
hele uur staan hulle daar en tuur na dit gekraakte glas. “Kom nou ou Kosie en
kom sit hier op daai kis en hou jou bek en luister vir my!”
Koos se hande bewe …
“Word wakker en doen wat
ek jou beveel of ek gaan jou lekker opdonner. Jy sal ʼn amptelike SAP33 dokument
invul saam met my en afteken as ʼn beëdigde verklaring wat ons in die spieël
gesien het van daai Willem misbaksel en hoe hy die sjerrie in die kerk gesteel
het, het jy my?”
Koos bly eers en stil sy hande bewe meer en
meer. “Marie, goed ek doen so …”
Dit is nog pik donker buite, Sarah is helder wakker en teken haar
aksiestaat vir die dag. Sy gee ʼn diep sug, haal asem stadig en bedink soos sy
elke dag doen haar dinge van gister, vandag en môre.
Lank gelede as arm dogter
het Meneer Willem haar so mooi gehelp, sy kom matriek mooi deur en hy skryf
haar in vir Rekeningkunde by Unisa en oortuig Meneer Piet Louw om haar by die
skool as admin klerk aan te stel. Nou vier jaar later en nog net twee maande
voor sy haar honneursgraad gaan kry. Volgende jaar die klerkskap mee afskop om ʼn
Geoktroeërde Rekenmeester te word!
So ʼn jaar gelede kom
Meneer Willem met ʼn mooi jong outjie en stel hom aan haar voor. “Julle twee is
so oulik en gaan mekaar baie geniet!” Hy het sy eerste werk by die praktyk hier
begin en die hele dorp se ou tannies is so lief vir Dokter Andries Stassen. Sy kyk
na haar vinger en vee ʼn traan af as sy weer na die mooi diamant ring kyk wat
Andries laas week daaraan gesit het !
Meneer Willem word nou geteister
deur daardie Marie tannie, hoekom?
Dit is half sewe, sy eet die bakkie Weet Bix, pak haar rugsak en klim
op die fiets, nou werk toe by die skool om ʼn uur of wat se studies vooraf te
doen. Net toe sy om die draai ry in Verweystraat daar staan dit reg voor haar,
die polisie vangwa met flitsende blou ligte!
Sarah ry agter die groot
Bloekomboom in en loer om die stam wat aangaan. En toe gebeur dit, twee
konstabels sleep hom met sy geboeide hande gooi hom in die vangwa, dit is
meneer Willem …
Landros Prinsloo slaan met sy hamer, “Op ʼn punt van orde, die verhoor
van Wilhelm Sarel Potgieter is uitgestel, hy is verwys na die Stikland
psigiatriese hositaal vir ʼn ondersoek na sy geestelike welstand. Die volgende
verhoor datum sal later bekend gemaak word.”
Die stampvol hofsaal se
nuuskierige bywoners staan stadig en dikmond op en loop uit. Agter in die hoek,
met haar hande oor haar oë bly Sarah net sit die trane loop oor haar wange en
sy mompel saggies. “Marie jou aaklige heks, ek sal jou laat boet hiervoor!”
Sarah gaan werk toe en klim vyf uur op haar fiets, ry na haar agterkamertjie
en klap die deur toe. Die donker wolke spoel oor haar, Hoekom is die lewe so
wreed en hoe gaan sy Oom Willem red? Hoe?
Ure later raak sy aan die slaap, sy word wakker en die son skyn al
helder, dit is Saterdag. Wat nou?
Sy gaan sit op die stoel in die tuin, die blomme is weer so mooi en
haar liefling Kasper katjie skuur teen haar en spin heerlik. Skielik is iets
anders in haar, sy haal diep asem, en loop reguit daarheen, tannie Marie se
dubbelverdieping huis.
Lui die deurklokkie, niks
gebeur nie, sy probeer weer en uiteindelik gaan dit oop, Marie staan daar nog
in haar pajamas met ʼn halwe bottel wit wyn in haar hand, sy wil die deur toe
klap maar Sarah skop dit wyd oop, “Sarah jou Klein feeks, trap!”
Sarah bly doodstil kyk
Marie in haar oë, “Tannie Marie, ek is so jammer vir alles wat gebeur, maar
weet tannie, as twee olifante baklei bly net die vertrapte gras agter ...”
Marie is doodstil, Sarah
loop na haar toe en hou haar styf vas terwyl Marie ruk van die snikke. “Tannie
ek wil net een ding doen en dit is om vir tannie en oom Willem te help.”
Marie neem Sarah se hand.
“Kom my kind, kom ek vertel …”
Sy vertel vir ʼn lang ruk
oor wat Willem se pa ou Petrus aan haar en die ander meisies gedoen het. Dit
was verskriklik … Sarah bly net stil en vee ook haar trane af.
“En toe hy homself dood
gedrink het was net een ding in my kom en dit was om wraak te pleeg. Hoe? Net
een manier, vernietig sy seun … Maar Willem was ook een wat so swaar moes kry en
niks aan ons gedoen het nie, nou het ek dit aan hom gedoen, hy is nou in die
tronk en malhuis, wat nou?”
Tannie ek gaan ʼn plan
maak, kyk mooi na tannie en sit daardie bottel weg …”
Sarah gaan klop aan die deur van haar bure, die dierbare majoor Sarel
van Vermeulen. “Oom hier is groot moeilikheid, kan ek vir oom alles vertel?”
Sy deel met hom en hoe
bang sy is wat nou met tannie Marie gaan gebeur. Majoor dink diep, “Liewe Sarahtjie,
ek kom al dertig jaar met misdade en menslike onheilighede. So ek moet nou die
tannie arresteer en hof toe neem. Dit gaan dit ‘n ramp wees. Die wet verplig my
om dit te doen maar daar is altyd ʼn plan om te maak en jy vertel vir niemand!”
Die maande loop verby, Willem is terug by die skool en die leerlinge
geniet hom weer soveel. Hy help vir Sarah en Andries met die trou reëlings en sien
so uit daarna.
Sarah en Andries neem verlof en gaan Pretoria toe. Unisa gee vir haar die
BComm Honneurs graad Cum Laude!
Majoor en Marie kuier
oor en weer en die hele dorp geniet
hulle soveel. Sersant Koos het vroeg afgetree en is net weg.
Dit is troudag, Sarah het die mooiste wit rok aan met helder rooi rose
in haar hand. Die kerk is stampvol, Dominee van der Poel is op die kansel en hy
knik sy kop. Die orrelis speel so mooi en Sarah stap in terwyl Willem haar
hande vashou en haar oorhandig aan Andries. Almal lag en die trane loop oor vele
wange loop.
Dominee, glimlag breed en kyk vir hulle. “Liewe Sarah en Andries, julle is alles vir ons dorp, julle het ons geleer dat om foute te maak is menslik, om te vergewe is goddelik!”

Opmerkings
Plaas 'n opmerking