Die Spieël

 “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die lelikste in ons land?” mompel Willem weer as hy dink aan die onsin wat in die dorp weer aan die gang is.

Hy sit in sy vuil woonstellietjie waar hy nou al vyftien jaar alleen oorleef. Op die lessenaar is die pak vraestelle van die graad tiens se geskiedenis eksamen wat hy voor môre moet klaar merk anders gaan ou Piet hom weer voor die ander onderwysers uitskel. Die lewe is hel!

Dan daardie Marie vroumens met haar gifbek wat voor almal in die kerkraad sal verkondig, “Liewe dames en menere en veral Meneer Piet, ons het juis gisteraand weer by die koöperasie se stoorkamer saam met Jan gaan kyk na daardie oeroue vuil spieël wat daar in die badkamer hang. Julle sal my nou nie glo nie, ek sien presies wat gebeur het in die konsistorie met die nagmaal wyn!”

 

Hy dink diep, wat is dan verkeerd, seker oorlede Pa wat na ma se dood oral met vroumense hier in Klipfontein flankeer het en hulle mans woedend gemaak het?

Net daar lui sy foon, die skerm wys ‘Sarah’. “Hêllo Sarah!”

“Meneer, ek is so jammer om oom te pla…”

“My kind jy pla my nooit, daar by ons skool se admin kantoor is jy alles vir ons, jy is al een wat vir my help!”

“Oom, weet oom van die spieël dinge wat Tannie Marie beweer mens kan in die ou spieël by die koöperasie terug kyk na wat vroeër gebeur het?”

“Sarah, watse onsin is dit!”

“Oom is so reg maar die hele dorp glo wat sy vertel en nou skinder almal dat sy weet wie het die nagmaal wyn gesteel!”

Hy bly net stil tot Sarah die foon afsluit, staan op om sy das en baadjie te gaan aantrek en reg maak vir dit wat hy so haat, die Kerkraad vergadering …

 

Dominee Van der Poel maak keel skoon, “Goeie naand broers en susters, baie dankie dat ons weer by mekaar kan wees en om as dolerende gemeente soveel ander te help. Suster Marie, sal jy as voorsitster nou oorneem?”

         Sy staan stadig op, vat die pak papiere en hompel met haar dik bene na die punt van die tafel. “Broers en susters, om te begin ons is so ontsteld oor die liters nagmaal wyn wat net weg is. Die dom polisie kry weer niks reg nie. Ek het toe weer vir my weeklikse besoek in die koöperasie se ou stoorkamer se badkamer weer in die spieël gaan kyk en u sal my nie glo nie, daar wys dit duidelik hoe die persoon die glas van die venster breek, in klim met ʼn groot boks om al die bottels Sedgefield Old Brown een vir een in daar in pak. Hy het ʼn lap oor sy gesig gedra soos in die virus tyd, maar dit maak nie saak nie, ek het hom duidelik herken!”

         “Suster Marie wie was dit?” gil amper almal. Willem kyk net af na sy tone en sug weer.

         Marie bly eers stil en toe. “Liewe Kerkraders, ek dink diep daaroor en sal later vannag weer lank in die ou spieël gaan kyk. As ek meer raaksien dan vir Sersant Koos gaan op klop en dit wys sodat hy die arrestasie kan afhandel.” Sy kyk na Willem vir amper ʼn minuut en die hele kerkraad hou hulle harte vas.

         Willem vlieg op, los al die papiere net daar en storm by die vertrek uit en klap die deur toe. Wat nou?

 

“Kom Koos, ek kan nie langer wag nie!” skree Marie oor die selfoon.

         “Kalmeer liefling, ek is nou daar.”

         Marie loop af om die blok, sluit die ou koöperasie gebou se veroeste deur agter oop, sit haar flits aan en strompel oor die ou goed wat daar rond lê. Sy gil vir haar self. “Kom dat ons die vark kan vastrek, wat sy pa Johan aan my gedoen het sal hy nou voor boet!”

         Uiteindelik kom stop die vangwa en Koos druk op die toeter. Marie kom uit en gil. “Kom, julle onnosel ore beteken niks, kom!!!”

         Koos sit sy pet op en en trek die pistool reg, neem sy knuppel en loop bang in. Marie loop vooruit met die flits. Sy loop in by die ou verlate badkamer, dit stink vreeslik.

         “Koos staan nou net hier en jy roer nie, het jy my? Ek weet van al jou kaskenades en as Majoor Vermeulen dit moet hoor is dit moer toe met jou!”

         Koos bly doodstil hy tuur na die spieël terwyl Marie met die flits daarop lig. “Maar Marie hier is dan niks nie, net ek en jy weerkaats van dit?”

         Sy bly net stil en vir ʼn hele uur staan hulle daar en tuur na dit gekraakte glas. “Kom nou ou Kosie en kom sit hier op daai kis en hou jou bek en luister vir my!”

         Koos se hande bewe …

         “Word wakker en doen wat ek jou beveel of ek gaan jou lekker opdonner. Jy sal ʼn amptelike SAP33 dokument invul saam met my en afteken as ʼn beëdigde verklaring wat ons in die spieël gesien het van daai Willem misbaksel en hoe hy die sjerrie in die kerk gesteel het, het jy my?”

          Koos bly eers en stil sy hande bewe meer en meer. “Marie, goed ek doen so …”

 

Dit is nog pik donker buite, Sarah is helder wakker en teken haar aksiestaat vir die dag. Sy gee ʼn diep sug, haal asem stadig en bedink soos sy elke dag doen haar dinge van gister, vandag en môre.

         Lank gelede as arm dogter het Meneer Willem haar so mooi gehelp, sy kom matriek mooi deur en hy skryf haar in vir Rekeningkunde by Unisa en oortuig Meneer Piet Louw om haar by die skool as admin klerk aan te stel. Nou vier jaar later en nog net twee maande voor sy haar honneursgraad gaan kry. Volgende jaar die klerkskap mee afskop om ʼn Geoktroeërde Rekenmeester te word!

         So ʼn jaar gelede kom Meneer Willem met ʼn mooi jong outjie en stel hom aan haar voor. “Julle twee is so oulik en gaan mekaar baie geniet!” Hy het sy eerste werk by die praktyk hier begin en die hele dorp se ou tannies is so lief vir Dokter Andries Stassen. Sy kyk na haar vinger en vee ʼn traan af as sy weer na die mooi diamant ring kyk wat Andries laas week daaraan gesit het !

         Meneer Willem word nou geteister deur daardie Marie tannie, hoekom?

 

Dit is half sewe, sy eet die bakkie Weet Bix, pak haar rugsak en klim op die fiets, nou werk toe by die skool om ʼn uur of wat se studies vooraf te doen. Net toe sy om die draai ry in Verweystraat daar staan dit reg voor haar, die polisie vangwa met flitsende blou ligte!

         Sarah ry agter die groot Bloekomboom in en loer om die stam wat aangaan. En toe gebeur dit, twee konstabels sleep hom met sy geboeide hande gooi hom in die vangwa, dit is meneer Willem …

 

Landros Prinsloo slaan met sy hamer, “Op ʼn punt van orde, die verhoor van Wilhelm Sarel Potgieter is uitgestel, hy is verwys na die Stikland psigiatriese hositaal vir ʼn ondersoek na sy geestelike welstand. Die volgende verhoor datum sal later bekend gemaak word.”

         Die stampvol hofsaal se nuuskierige bywoners staan stadig en dikmond op en loop uit. Agter in die hoek, met haar hande oor haar oë bly Sarah net sit die trane loop oor haar wange en sy mompel saggies. “Marie jou aaklige heks, ek sal jou laat boet hiervoor!”

Sarah gaan werk toe en klim vyf uur op haar fiets, ry na haar agterkamertjie en klap die deur toe. Die donker wolke spoel oor haar, Hoekom is die lewe so wreed en hoe gaan sy Oom Willem red? Hoe?

Ure later raak sy aan die slaap, sy word wakker en die son skyn al helder, dit is Saterdag. Wat nou?

 

Sy gaan sit op die stoel in die tuin, die blomme is weer so mooi en haar liefling Kasper katjie skuur teen haar en spin heerlik. Skielik is iets anders in haar, sy haal diep asem, en loop reguit daarheen, tannie Marie se dubbelverdieping huis.

         Lui die deurklokkie, niks gebeur nie, sy probeer weer en uiteindelik gaan dit oop, Marie staan daar nog in haar pajamas met ʼn halwe bottel wit wyn in haar hand, sy wil die deur toe klap maar Sarah skop dit wyd oop, “Sarah jou Klein feeks, trap!”

         Sarah bly doodstil kyk Marie in haar oë, “Tannie Marie, ek is so jammer vir alles wat gebeur, maar weet tannie, as twee olifante baklei bly net die vertrapte gras agter ...”

         Marie is doodstil, Sarah loop na haar toe en hou haar styf vas terwyl Marie ruk van die snikke. “Tannie ek wil net een ding doen en dit is om vir tannie en oom Willem te help.”

         Marie neem Sarah se hand. “Kom my kind, kom ek vertel  …”

         Sy vertel vir ʼn lang ruk oor wat Willem se pa ou Petrus aan haar en die ander meisies gedoen het. Dit was verskriklik … Sarah bly net stil en vee ook haar trane af.

         “En toe hy homself dood gedrink het was net een ding in my kom en dit was om wraak te pleeg. Hoe? Net een manier, vernietig sy seun … Maar Willem was ook een wat so swaar moes kry en niks aan ons gedoen het nie, nou het ek dit aan hom gedoen, hy is nou in die tronk en malhuis, wat nou?”

         Tannie ek gaan ʼn plan maak, kyk mooi na tannie en sit daardie bottel weg …”

 

Sarah gaan klop aan die deur van haar bure, die dierbare majoor Sarel van Vermeulen. “Oom hier is groot moeilikheid, kan ek vir oom alles vertel?”

         Sy deel met hom en hoe bang sy is wat nou met tannie Marie gaan gebeur. Majoor dink diep, “Liewe Sarahtjie, ek kom al dertig jaar met misdade en menslike onheilighede. So ek moet nou die tannie arresteer en hof toe neem. Dit gaan dit ‘n ramp wees. Die wet verplig my om dit te doen maar daar is altyd ʼn plan om te maak en jy vertel vir niemand!”

 

Die maande loop verby, Willem is terug by die skool en die leerlinge geniet hom weer soveel. Hy help vir Sarah en Andries met die trou reëlings en sien so uit daarna.

Sarah en Andries neem verlof en gaan Pretoria toe. Unisa gee vir haar die BComm Honneurs graad Cum Laude!

Majoor en Marie kuier oor en weer en die  hele dorp geniet hulle soveel. Sersant Koos het vroeg afgetree en is net weg.

 

Dit is troudag, Sarah het die mooiste wit rok aan met helder rooi rose in haar hand. Die kerk is stampvol, Dominee van der Poel is op die kansel en hy knik sy kop. Die orrelis speel so mooi en Sarah stap in terwyl Willem haar hande vashou en haar oorhandig aan Andries. Almal lag en die trane loop oor vele wange loop.

         Dominee, glimlag breed en kyk vir hulle. “Liewe Sarah en Andries, julle is alles vir ons dorp, julle het ons geleer dat om foute te maak is menslik, om te vergewe is goddelik!”  

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Drie vingers wys terug